Christo Engelbrecht studiefonds

Ter nagedagtenis aan ons seuntjie en ander klein pasiëntjies


Waarvoor is die fonds?



Die Christo Engelbrecht studiefonds vertel die storie van ’n 3-jarige seuntjie wat nooit groot geword het nie vanweë ’n tragiese misdiagnose na ‘n lumbale punksie. Die fonds herdenk vanjaar 5 jaar sedert klein Christo se dood en het ten doel om ‘n jongmens met studiebefondsing by te staan. Die fonds is deur Christo se ouers en die gesin se kerk, die Gereformeerde Kerk Innesdal in Pretoria, gestig en word deur die Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum geadministreer.

“Christo is op 5 November, 5 jaar gelede, oorlede en ons wou graag sy lewe op ‘n uitsonderlike wyse herdenk. Ons hoop om met hierdie studiefonds ‘n passievolle jongmens te help om ‘n spesialis te word sodat hy/sy deur Christo se storie ander kindertjies se lewens kan red en kan verhoed dat ander ouers hierdie seer pad moet stap,” sê Marisa Engelbrecht, Christo se mamma.

"Ons glo aan die toekoms. Ons glo ook dat ons kinders se kinders, en nog verder, jare na ons nog hier gaan wees. Om hierdie rede glo ons aan die opleiding van ons kinders, sodat hulle die beste moontlike toekoms kan aangryp. Maar om 'n toekoms te kan hê moet hulle opgroei tot volwassenes,” sê pappa Louis Engelbrecht. "Daarom is dit belangrik dat bekwame, kundige en passievolle pediaters opgelei moet word om ons klein mensies gesond te hou.”

Christotjie se storie het destyds soveel mense se lewens aangeraak. Daar was bidgroepe vir hom gestig van letterlik regoor die wêreld – Amerika, Engeland, Duitsland, Nieu-Seeland, Australië, en natuurlik hier in Suid-Afrika.

Die Gereformeerde Kerk Innesdal, onderhou ook nou ‘n gemeenskapgroentetuin sodat die beurs ook volhoubaar in die toekoms kan wees. Dr Wikus Buys, predikant van gemeente sê: “Vir ons as gemeente beteken hierdie studiefonds baie. Daardeur beleef ons dat die Here se beloftes die een geslag aan die volgende geslag bind, omdat die Here Homself aan ons verbind het.”

Die Christo Engelbrecht studiefonds gaan aan ’n passievolle jongmens wat met deernis tot in alle uithoeke sal gaan om vir die lewe van ’n kind te veg. Dié jongmens moet opgelei word as pediater, pediatriese ISE-spesialis, of pediatriese neuroloog. Dit moet ’n Afrikaanse jongmens wees met ’n sterk Christelike roeping, en vandag, op hierdie 5 jaar herdenking, nooi gesin Engelbrecht jongmense uit om aansoek te doen vir hierdie studiebefondsing.

“Christo'tjie was lief vir fietsie-ry, karre en krieket speel. Hy was lief vir sy skooltjie en kerk toe gaan. Hy het geswem, gedans, gelag en gespeel en die huis gevul met laggies en ronde kaalvoetstappies,” sluit mamma Engelbrecht af.

Jongmense wat belangstel word uitgenooi om Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum by sfs@helpendehand.co.za te kontak om aansoek te doen.

KONTAKPERSOON
Marisa Engelbrecht
Mamma
082 675 9256
marisa@solidariteit.co.za